Nkosi Sikelel' iAfrika ([ŋkʼɔsi sikʼɛlɛl‿iafrikʼa], letterlik: “God seën Afrika”) is ’n Christelike lied wat oorspronklik in 1897 geskryf is deur Enoch Sontonga, ’n Xhosa-predikant by ’n Metodistiese sendelingskool naby Johannesburg. Die lied het ’n Pan-Afrika-bevrydingslied geword en weergawes is ná hul onafhanklikheidwording as nasionale volkslied van vyf Afrikalande, waaronder Zambië, Tanzanië, Namibië en Zimbabwe, goedgekeur. Zimbabwe en Namibië het intussen nuwe komposisies as hul nasionale volksliedere goedgekeur. Die lied se melodie word tans vir die nasionale volksliedere van Tanzanië en Zambië gebruik. In 1994 het Nelson Mandela bepaal dat die vers en ’n hersiene weergawe van “Die Stem van Suid-Afrika” in ’n gesamentlike volkslied van Suid-Afrika gebruik moet word wat in 1997 goedgekeur is.[1]
Die lied word dikwels die “nasionale volkslied van Afrika” genoem weens sy verwysing na Afrika en sy gebruik as ’n bevrydingslied. Volgens die antropoloog David Coplan het Nkosi Sikelel 'iAfrika die stryd om Afrika-eenheid en bevryding in Suid-Afrika meer as enige ander ekspressiewe kultuur gesimboliseer.[2] Die lied is in verskeie tale (insluitende Afrikaans) vertaal en is wêreldwyd bekend as ’n proteslied van verskeie protesgroepe gedurende die apartheidsera in Suid-Afrika se geskiedenis.